| Beeld - Entrepreneur-Sake |
| André Janse van Vuuren | |
| Tuesday, 29 November 2005 | |
![]() Egpaar bemark kennis oor holistiese lewe kommersieelGewoeker met webwerf gou uitgebrei Nirwana is nou binne bereik van die oningeligde, danksy die breinkind van 'n entrepreneuriese paartjie wat die geheime van 'n holistiese lewenswyse vir gewone mense wil ontsluit. Mnr. Ceri Balston en sy vrou, Lenny, het met die idee van 'n kommersiële webwerf met holistiese lewensstyl as tema vorendag gekom om lig op die misterie van hierdie gebruike te werp. Enigiemand kan dit doen "Dit funksioneer dikwels so afgesonderd van die hoofstroom dat mense dink dit is 'n kultiese beweging," sê Lenny. "Met hierdie webwerf wil ons wys dat enigiemand dit kan doen." Die inhoud van die webwerf sluit in 'n reeks artikels wat bykans alles dek oor die liggaam, siel en gees, die omgewing, boek- en musiekresensies, 'n praktisynsgids, woordelys, gebeurtenis-kalender en 'n databasis van olies waarmee siekte-toestande behandel kan word. Die Balstons het sowat twee jaar gelede vir die eerste keer met die idee begin speel om holistiese gebruike in 'n kommersiële formaat bekend te stel. Lenny was tóé 'n IT-spesialis in die korporatiewe wêreld, terwyl Ceri skoolgehou het. Aanvanklik wou hulle 'n gedrukte publikasie uitgee. Ná 'n gesukkel om kwotasies hiervoor in die hande te kry, het hulle besluit om 'n webwerf te ontwerp. Ontwerp vat meer as 'n jaar "Dit het meer as 'n jaar gevat om die formaat van die webwerf uitgepluis te kry," sê Ceri. "Eers nadat dit vier keer byna heeltemal herontwerp is, was ons tevrede met die produk." Uiteindelik is die webwerf, www.harmoniousliving.co.za, in Augustus vanjaar bekend gestel. Hiervoor het hulle deeglik voorbrand gemaak met advertensies op ander webwerwe, en het gevolglik meer as 4 500 bladsy-afdrukke in die eerste twee weke gekry. "Dit is hier waar ons 'n fout begaan het," sê Ceri. "Dit is baie moeilik om mense te oortuig om weer terug te kom -- daarvoor moet jy sorg dat die werf elke dag iets nuut en anders het." Om inligting nou vars en interessant te hou, skryf hulle daagliks nuwe artikels en kry ook deskundiges om oor onderwerpe te skryf. Nog 'n manier om mense oor die webwerf ingelig te hou, is om daaglikse nuusbriewe na lede van hul intekenaar-databasis te stuur. Hulle plaas ook skakels na hulle werf op die webwerwe van aanvullende ondernemings soos gesondheidspa's. Vir 'n inkomste is hulle uitsluitlik van advertensies afhanklik. "Dit is verreweg die moeilikste deel, want nie een van ons is natuurlike verkoopslui nie," sê Lenny. Die twee het ook eers die afgelope maand hul beroepe laat vaar en bedryf die webwerf nou voltyds vanaf hulle huis in Jukskei Park, Sandton. Volgens Lenny wil hulle mettertyd graag die handelsnaam verder uitbou en werkwinkels daaronder aanbied en winkels open. Daarmee saam beoog die Balstons om in hul gemeenskap betrokke te raak. "Dit help immers nie jy sit en mediteer en wag op nirwana terwyl jy vergeet van die mense rondom jou nie," sê Lenny. |